CMR Gauteng-Oos | Regte ingryping kan-mense se lewe verander
15582
single,single-post,postid-15582,single-format-standard,ajax_fade,page_not_loaded,,qode-theme-ver-9.0,wpb-js-composer js-comp-ver-4.11.1,vc_responsive

Regte ingryping kan-mense se lewe verander

henda

14 Dec Regte ingryping kan-mense se lewe verander

hendaHenda van der Merwe (59), ’n maatskaplike werker van Pretoria, glo die stories van mense met maatskaplike probleme kán met die regte ingryping verander. Sy het immers jare se ondervinding daarvan. Retha Fick het met haar gesels vir hierdie aflewering van My wêreld: Lesers vertel.

Selfs ná dekades as maatskaplike werker het Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad se Gauteng-Oos-kantoor, “een goeie nag wakker gelê” oor die nuus van die grusame dood van Poppie van der Merwe (3) van Brits in 2016.

Poppie se stiefpa en ma is intussen skuldig bevind aan moord en kindermishandeling en dien lewenslange tronkstraf uit. ’n Kopbesering wat met geweld deur ’n stomp voorwerp veroorsaak is, het uiteindelik tot Poppie se dood gelei.

Van der Merwe het destyds in haar brief aan Beeld veral een dwingende vraag gehad: Waar wás almal in Poppie se verhaal? Maatskaplike werkers is goed opgelei om met gesinsgeweld te werk en kan verdere mishandeling van onskuldige kinders voorkom . . .

Om mense se lewensverhale in stories van hoop te omskep, is juis wat ’n maatskaplike werker se werk so bevredigend maak, vertel Van der Merwe in die CMR Gauteng-Oos se kantoor in Faerie Glen.

“Jy kan ingryp in mense se lewens. Jy weet, jy réd kinders se lewens. Daai gevoel . . . Om te voel jy maak ’n verskil.”

Daar is net een maatskaplike werker vir elke 250 000 mense in die land. Hulle werk hard en brand uit – nie net weens ’n groot gevallelading nie, maar ook weens die intensiteit van die gevalle.

’n Skermgreep uit die draaiboek van haar eie lewe wat sy met maatskaplike werk verbind, kom uit haar skooldae. “Ek was in die Hoërskool Edenvale. Langs die skool was daar ’n plek van veiligheid, die Norman-huis.

“Ek onthou hoe ons in die klas op die boonste verdieping gesit het en gesien het hoe kinders van die huis oor die draad klim en al langs die snelweg in die rigting van Johannesburg weghardloop.”

Die prentjie het in haar kop vasgesteek, maar ná skool het sy ’n beurs van die destydse Transvaalse Provinsiale Administrasie gekry om onderwys by die Universiteit van Pretoria te studeer.

“My hoofvakke was wiskunde en Engels. Dit was vir my uiters vervelig. My kamermaat het maatskaplike werk gestudeer. Een aand blaai ek toe deur een van haar handboeke en lees oor die uitwerking van dwelmmiddels.”

Die res was, soos hulle sê, geskiedenis en in Van der Merwe se geval 38 jaar van heerlike werksbevrediging.

Haar werklewe het haar deur so te sê al die velde van maatskaplike werk geneem – psigiatriese maatskaplike werk by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria; gesins-, huweliks- en individuele terapie by die Elim-kliniek vir verslaafdes in Kempton Park, deeltydse werk by Famsa in die Kaap. Daarna het sy vir 17 jaar by Kindersorg in Pretoria gewerk – by die kindermishandelingseenheid en later die aannemingskantoor. Sy het ook in ’n stadium ’n private praktyk gehad, het haar meestersgraad voltooi en tussendeur haar drie seuns grootgemaak.

Nou is sy al 11 jaar lank die baas by CMR Gauteng-Oos, waar sy veral gemoeid is met bemarking, die werwing van borgskappe en menslikehulpbronbestuur.

En om dáár te wees vir haar span.

“Daar is net een maatskaplike werker vir elke 250 000 mense in die land. Hulle werk hard en brand uit – nie net weens ’n groot gevallelading nie, maar ook weens die intensiteit van die gevalle.

Ons begroot elke jaar vir ’n tekort, en elke jaar breek ons gelyk. Die staat se subsidies dek tussen 40 en 50% van ons begroting. Die res moet ons elders kry.

“Toe ’n maatskaplike werker byvoorbeeld die ander dag ’n aanmelding ondersoek in ’n redelik gegoede woonbuurt, toe sit die ses kinders op die dak van die huis. En die kinders se pa is dronk. Toe moet sy die kinders van die dak af kry. En al ses in haar klein motortjie laai.

“Maatskaplike werkers word dikwels deur die publiek mishandel. As hulle ’n kind verwyder, is hulle in groot moeilikheid. As hulle dit nié doen nie, is hulle ook in die moeilikheid.

“Ons verwyder nie sommer kinders nie. Net in nood of dood – as ’n kind se léwe daarvan afhang. En as ’n kind vir lank aan molestering blootgestel is, dan móét jy mos die kind verwyder!”

Die uitwerking van die landsekonomie se droewige toestand op welsynsorganisasies laat Van der Merwe nie wakker lê nie.

“Ons begroot elke jaar vir ’n tekort, en elke jaar breek ons gelyk. Die staat se subsidies dek tussen 40 en 50% van ons begroting. Die res moet ons elders kry. Maar ek stres lankal nie meer oor geld nie.

“Een dag is ek alleen op kantoor toe ’n wildvreemde vrou bel. Hulle wil geld gee, en kan hulle my kom sien, vra sy.

“Hulle het ons webblad gesien, hulle wil die geld gee vir ’n organisasie wat met gesinne werk. Maar hulle wil baie geld gee.

“Die volgende dag was die geld, R700 000, in ons rekening. Christen-sakelui net hier om die draai van ons af. Dit maak ’n mens so opgewonde!”

Om haar kop skoon te kry, geniet sy Saterdae die parkrun en werskaf graag in die tuin van haar huis in Constantiapark.

En vir ’n deeglike ruskans is die Krugerwildtuin en ons buurlande gunstelingbestemmings.

En lees sy nog gereeld Beeld?

“Ek het twee nuus-apps op my foon en dink soms ek wil die aflewering by my huis kanselleer. Maar ek is net te nuuskierig. Ek hou daarvan om álles te weet!

“Ek wil sien wat van mense se stories word.”

No Comments

Post A Comment